Skrywers oor SKRYF

tikmasjien

1. Jy moet weet waarvan jy praat. As jy nie weet nie, gaan jou leser jou uitvang. – P.J. Haasbroek (1943-)

2. “As jy die regte vraag vra en dan lank genoeg stilbly, het almal ’n storie om te vertel.” Dana Snyman (1963-)

3. “My verbeelding het die grootste invloed op my as skrywer. Persoonlike ervaring is net ’n vertrekpunt. As iets my ontstel, wil ek daaroor skryf.” Sonja Loots (1972-)

4. “Om te skryf, is om te kommunikeer, om saam te eet, om geméénskap te hê, ‘n nagmaal, ons almal se bloed, ons almal se vleis.” – Breyten Breytenbach (1939-)

5. Sy is nie iemand wat haar skryfwerk tot in die fynste besonderhede ontleed terwyl sy daarmee besig is nie. “Dit gebeur weinig dat ek iets hoef ‘uit te dink’, selfs die name van mense pop net uit my uit en ek is eerlikwaar verbaas oor waar al die

goed vandaan kom.” – Anoeschka von Meck (1967-)

6. “Die oorspronklike idee is inspirasie. En die storie speel letterlik soos ‘n fliek in my kop af – ek sien en hoor die karakters en ek ervaar alles saam met hulle. Maar daar is ‘n groot gaping tussen ’n storie in jou kop beleef en ’n boek. Om te gaan sit en dit wat jou kop vir jou gegee het, in ’n samehangende, geloofwaardige storie te omskep, is donnerse harde werk. Dis frustrerend, uitputtend en geweldig eensaam, en as jy vir inspirasie wag om daardie gedeelte van die proses af te handel, gaan jy met die storie ongeskryf in jou kop doodgaan.” – Sophia Kapp oor Driehoek.

7. “Nou voel dit vir my dat my skryfwerk my definieer. Ek kan dit nie los nie. Dit is deel van my bestaan. Ek beskou myself as ’n verhaalverteller wat hoop dat my verhale plesier sal verskaf.” – Malene Breytenbach (1948-)

8. “Die misdaadroman leen hom by uitstek tot vinnige, volgehoue aksie en spanning. ’n Mens moet jou storie ken om dit reg te kry. Jy moet jou leser binne die eerste sin of twee vasvang, en nie weer laat los tot die einde nie.” – Peet Venter (1940-)

9. “Geen resensent, al doop hy sy pen in gal, sal my stilmaak nie, want ek verkeer met my karakters, en het hulle lief, hulle verstaan my en hou my geselskap. Kan ek help indien hulle my sê wat om te skryf?” – Mikro (1903-1968)

10. “Ek skryf vorentoe. En ek skryf terug. Dis ’n manier om ’n groot roman in jou kop te hou. En om te herskryf, te herskryf, te herskryf …” – Ingrid Winterbach (1948-)

11. “Meer as enigiets anders het ek dit aan haar [my ma] te danke – dat sy my lief gemaak het vir stories en boeke. Dit is ’n onbeskryflike groot skat.” – Adam Small (1936-)

12. “Die literêre wêreld is nie iets waaroor ek veel dink nie. Ek dink oor stories en prosa en maniere om dit of dat in ’n roman reg te kry. Kortom, my belangstelling is skryf, eerder as literatuur.” – Zirk van den Berg (1960-)

13. Baie mense het gewonder of die karakters in sy kortverhale werklik bestaan het: “Hulle moet nou nie die boer die kuns afvra nie. Die stof vir my boeke het ek oor baie jare uit die werklike versamel. Baie van die karakters bestaan in die werklike lewe.” – Dirk Mostert (1897-1982)

14. “’n Lang woord vind ek partymaal mooi. Maar dis die kort alledaagse woorde wat vir my die mooiste is. Waar die jagters in Skankwan [van die duine] langs die uitgebrande kameelhoutvuur slaap, wys die kole naderhand rooi deur die wit as. Dis vir my ’n mooi sinnetjie, en tog bestaan die langste woord daarin maar uit vier letters. – SB Hobson (1888-1965)

15. “As iemand snaaks probeer wees, lag mense gewoonlik nie. Dit is ’n kuns om mense te laat lag.” TO Honiball (1905-1990)

16. “Moenie dit probeer doen [kinderboeke skryf] omdat jy dink dis makliker omdat dit korter is nie! Respekteer altyd jou leser en skryf so goed as wat jy kan. En dan begin jy weer voor en skryf dit nog beter oor. En nóg beter. Geniet wat jy doen – stories WEET altyd as jy dit nie GENIET nie en dan wil hulle nie geskryf word nie. (Moenie met stories sukkel nie – hulle weet beter as jy!) – Martie Preller

17. Ek glo aan die LLS-benadering: Lees, Leef en Skryf. Daar is geen beter oefening vir skryf as lees nie. Lees baie, lees gereeld, lees die bestes in die genre waarin jy wil skryf. En moenie vergeet om te leef nie. Leef doelbewus, versamel ervarings en emosies en stories en mense en karakters. Gaan sit dan en skryf. Moenie vir mense vertel jy wil, of sal, of gaan nog eendag skryf nie. Doen dit. Elke dag, al is dit net een sin of paragraaf. Skryf is, soos enige vaardigheid, iets wat net gaan verbeter as jy aanhou om dit te doen. Aanvaar dat dit ’n steil, soms pynlike leerkurwe is, maar eweneens lekker en verrykend en verruimend.” Deon Meyer (1958-)

18. “Toe ek die tragedie by jou oorgeneem het, was hy in ‘n treurige kondisie: die een vetlaag op die ander pleks van spiere. Vol geswolle woorde, rye rye blaasoppies. Ek het die hele klomp soustannies dadelik op ‘n verslankingsdieet gesit: kleiner woorde, geen bombas of retoriek nie, verder ‘n bietjie fyngekapte logika verdun met beetsap, die hele spul gefiltreer deur ‘n bietjie beskaafde omgang en die spysvertering aangewakker deur ‘n lewendiger, atletieser verspas.” Aristophanes 450 – 385 (B.C.)

19. “Jy wil as gevoelige mens wat die lewe liefhet, getuig van daardie lewe, van sy goed en sy kwaad, want dié is een. Uys Krige 1910 – 1987 oor die skrywer se rol. ” Uys Krige in gesprek met Jan Rabie., gesprekke met skrywers.

20. “Die wêreldliteratuur is ‘n volle orkes – nie ‘n dun en eensame fluit nie. Elke taal, selfs die kleinste, is ‘n aparte instrument met ‘n eie timbre. Literatuur wat in hom volmaak uitgespreek is, word ‘n onvervangbare verowering van die mens; gaan dit verlore, ly die hele mensdom skade.” N.P. van Wyk Louw 1906 – 1970 Inleiding tot JPJ van Rensburg se vertaling van Die vroue van Troje deur Euripides, 1945

Saamgestel deur Marietjie Wentzel – Desember 2013

3 gedagtes oor “Skrywers oor SKRYF

  1. Wat Sophia Kapp geskryf het oor ‘n storie wat in jou kop leef, maar nie sy weg vind na woorde op papier nie, klink vir my skrikwekkend bekend. Dit vang mooi vas hoé ek tans voel oor die novelle wat in Dwarskersbos sy beslag gekry het, en nou steeds net sover as Hoofstuk 5 gevorder het.

    Ek wroeg oor al die hoekoms en die waaroms en dramas wat nog moet uitspeel, maar helaas, alles in my kop. Ek weet in my hart dat die enigste raad is om Hoofstuk 6 te takel en te skryf, skryf, skryf. Sónder om eers weer aan die eerste vyf hoofstukke te karring. Makliker gesê as gedaan!

    Like

  2. Ek begryp heeltemal wat jy hier sê, maar miskien is dit goed dat daar soveel tyd verloop het.

    Miskien sal hierdie spesifieke raad jou help:
    * Soos jy sê – dis makliker gesê as gegaan: Hou op wroeg en laat die karakters toe om self die verhaal te skryf. Vergeet van wat jy al gedink en beplan het.
    * Skryf net.
    * Skryf die hele verloop van die verhaal eers uit jou kyf het.
    * Gaan terug en maak eers net foute reg.
    * Bou daarna eers brûe tussen gedeeltes wat effens los van die res staan.

    Hoop dit help.

    Like

  3. Dankie, sal dit so probeer! Ek frustreer en irriteer myself al grensloos. Ek het darem die verskoning en/of rede dat ek menopousaal is, met kroniese hoofpyn die koop toe. Dit moet darem bietjie punte in my guns tel, hoewel ek maar redelik hardvogtig met myself is.

    Like

Lewer kommentaar