Die Skryfbesigheid

Ons toor nog steeds met woorde…

KOM ONS SKRYF KINDERSTORIES (DEEL 1) – saamgestel Marietjie Wentzel

kinderboek 1 kinderboek 3Baie voornemende skrywers dink dit is makliker om met die skryf van kinderstories te begin en dan “op te gradeer” na kortverhale en later moontlik ’n roman of twee. Inteendeel, dis baie moeiliker om kinderstories te skryf.

“Een van die voor die hand liggendste feite oor grootmense, is dat hulle al vergeet het hoe dit is om ’n kind te wees,” het Randall Jarrell dit gestel.

Wat lees kinders? Kinders lees alles, nes grootmense. Alle soorte boeke en alle tipes stories trek hulle aandag. Kinders is dus nie ’n homogene groep nie. Ongelukkig redeneer baie skrywers dat as ’n storie goed genoeg is, alle ouderdomsgroepe daarby aanklank sal vind. Dit is nie waar nie. Party kinders kan nog nie lees nie en het dus storietyd of voorlesing nodig, terwyl ander reeds op ’n jong ouderdom gevorderde boeke kan lees en party het pas begin lees of kan nog nie eers praat nie! Daarom is dit belangrik om vir elke ontwikkelingsfase voorsiening te maak en dit is iets wat die skrywer baie beslis in aanmerking moet neem.

Dit is belangrik om te besluit vir watter teiken- of ouderdomsgroep jy wil skryf, maar indeling van boeke in genres is kunsmatig omdat almal nie teen dieselfde tempo ontwikkel nie. Wanneer ons van kinder- of jeugliteratuur praat, is daar die volgende onderskeid wat kan dien as riglyn:
Bababoeke (0-3 jaar): Dit is gewoonlik duursame kartonboekies of interaktiewe boeke met skwiekers (squeakers), legkaarte, vat-en-voel-insetsels of opblaas-badboekies. Omdat dit baie duur is om te publiseer, word oorsese boeke meestal vertaal en in koproduksie met groot oorsese uitgewerye uitgegee. Bekende voorbeelde: Waar’s Otto? (Eric Hill), Die ruspe wat so honger was (Eric Carle) en die Vat en Voel-reeks (LAPA Uitgewers/Dorling Kindersley).
Prenteboeke (3-7 jaar): ’n Standaardformaat-prenteboek beslaan 32 bladsye. Die teks is min en eenvoudig. Die volkleurillustrasies is net so belangrik soos die teks. Dit help gewoonlik om die storie te vertel vir die lesertjies wat nog nie kan lees nie of vertel soms ook ’n eie storie. Bekende voorbeelde: Die prinses van die Afrikavlaktes (Alana Bailey en Emily Bornoff), Die goorgomgaai (Julia Donaldson en Axel Scheffler), die Jamela-reeks (Niki Daly) en Babalela (Martie Preller en Andries en Erica Maritz).
Beginnerleesboeke (7- 9 jaar): Stories vir hierdie groep is gewoonlik ingestel op prettige, opwindende en humoristiese storielyne. Die teks is kort en eenvoudig en word deur volop illustrasies aangevul. Bekende voorbeelde: The Cat in the Hat (Dr. Seuss), die Ouma Hester-reeks (Janie Oosthuysen), die Slym-reeks (Fanie Viljoen) en die Jamie en Sebastian-reeks (Martie Preller, Martie Kruger en Vian Oelofsen).
Intermediêre lesers (9-12 jaar): By hulle is humor, grilstories en avontuurverhale gewild. Boeke het meestal swart-wit-illustrasies of soms geen illustrasies nie. Pippie Langkous (Astrid Lindgren), Die Diary of a Wimpy Kid-reeks (Jeff Kinney) en die Rillers-reeks (Francois Bloemhof), Droomoog Diepgrawer (Leon de Villiers) en die Speurhond Willem-reeks (Elizabeth Wasserman).

WENKE VOOR JY BEGIN SKRYF
Die heel belangrikste wenk vir enige skrywer van enige genre is lees, lees en nog lees. En dit geld veral vir kinderboekskrywers, net sodat hulle kan weet hoe kinders dink en wat nou die gewilde neiging in die mark is. ’n Voornemende skrywer wat nie lees nie, is net so voorbereid soos ’n voornemende Comrades-atleet wat nie van draf hou nie!

Spring weg deur soveel moontlik boeke vir die betrokke ouderdomsgroep te lees. Die Suid-Afrikaanse kinderboekmark verskil baie van die Britse of Amerikaanse mark, daarom is dit belangrik om te kyk na wat tans in die plaaslike mark gepubliseer word. LEES bly die trefsekerste manier om ’n aanvoeling te kweek vir die vereistes van die teikenmark vir wie jy wil skryf.

Die losheid wat nodig is vir kreatiewe denke, het kinders nog. Ons moet dit weer by hulle en hulle boeke kry. Wie weet, dalk het ons iets gemis? Baie skrywers dink ’n kind is nog dom en dat hulle hom/haar moet “leer”. Verbaal is hulle dalk nog nie klaar ontwikkel nie, maar hulle siele is net so groot soos grootmense s’n.

Picasso het gesê dat hy sy lewe lank daarna gesoek net om weer soos ’n kind te teken, met daardie natuurlike balans wat ons verloor wanneer ons ouer word. Einstein het weer gesê dat verbeelding belangriker is as kennis! Wie se boeke is kleurryk en propvol verbeeldingsvlugte? Ons moet weer dink oor kinders en kinderboeke en die rykdom wat hulle ons bied. Ons moet eerder na hulle kyk en vat wat hulle gee. Hulle is propvol wonderlike gawes vir ons, waaronder eerlikheid en idees – as ons hulle ruimte gee om eerlik te wees!

Ons moet weer onbevooroordeeld kyk na kinders, kinderstories en kinderboeke.

Bronne:
Die Afrikaanse Skryfgids, saamgestel deur Riana Scheepers en Leti Kleyn, Penguin Boeke Suid-Afrika. 2012
Eendag was daar ’n storie, Martie Preller, Tafelberg Uitgewers, Kaapstad. 2003
Write from the beginning: All you need to know about writing the short story, Eileen Molver, Marie Thorpe & Janet Nicholson

Advertisements

3 Kommentaar

  1. Dankie , baie interesant.

    Like

  2. Karen

    Baie dankie vir die wenke, ek hou dop vir die volgende les.

    Like

Trackbacks

  1. WENKE OM SELF JOU KINDERSTORIE TE REDIGEER | Die Skryfbesigheid

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: