Die Skryfbesigheid

Ons toor nog steeds met woorde…

KOM ONS SKRYF KINDERSTORIES (DEEL 3)

kinderboek 3

Waar begin ’n mens?

Die mite dat dit die maklikste is om eerder kinderstories te skryf as stories vir groter kinders of selfs volwassenes, IS ’n mite. Dit is eintlik baie moeiliker om kinderstories te skryf. Hierdie stories vereis dieselfde volgorde van storielynbeplanning asook die dissipline om die storie teen ’n vinnige pas te laat gebeur om die jong leser se aandag te behou.

Daarbenewens is dit uiters belangrik dat die skrywer maklike woorde sal gebruik wat binne die bestek van die leesouderdom van die ouderdomsgroep vir wie die skrywer skryf. Wanneer die ouderdomsgroep gekies is, moet die skrywer let op die lengte van die storie.

Wanneer jy slaaptydstories vir voorskoolse kinders skryf, moet jy onthou dat die kleingoed net vir ’n beperkte tyd regtig kan konsentreer. Vir die gemiddelde kind vir wie stories voorgelees word, is 500-800 woorde meer as genoeg. Sodra hy skool toe gaan en self begin lees, moet die stories maklike woorde bevat.

Volwassenes hou nie van herhaling nie, maar kinders hou van ’n mate van herhaling. Byvoorbeeld: Kom ons gaan parkie toe. Ons speel graag in die parkie. Dis pret om daar te speel. Kinders geniet beperkte alliterasie, maar oordrewe alliterasie is naderhand nie meer pret nie: Sannie speel so. Sy sal sommer sing. Onthou egter om diere met allitererende name te vermy as karakters: Willempie Wurm, ens.

Kinderstories se styl verander baie vinnig. Feëverhale is nie meer so gewild soos vroeër nie – die heel kleintjies sal nog daarvan hou. Towery, ruimte stories, buite-ruimtelike wesens en oplossings vir gesins- of kinderprobleme is veilige onderwerpe. Die meeste kinders hou van dierestories, maar dit moet vars en met ’n nuwe benadering aangebied word. Selfs baie jong kinders stel belang in rekenaars, indien ’n maklik genoeg storielyn daarby ingewerk is.

Jong kinders hou daarvan om die betekenis te vra van woorde wat hulle nie verstaan nie. Te moeilike woorde kan die kind minderwaardig laat voel en belangstelling in die storie laat verloor. Elke storie moet ’n paar “nuwe” of moeilike woorde bevat, maar dit moet in die loop van die storie verklaar word, byvoorbeeld: Hansie is ’n nagdier. Hy slaap die hele dag en kom net uit sodra die son gesak het.

Die skrywer moet te alle tye die leser se aandag met die eerste paar woorde vasvang. Dan moet die storie beweeg. Die pas van beweging is uiters belangrik, al beteken dit dat sekere aspekte van karakterisering, bui/luim in die slag moet bly.

Vir die skryf van kinderboeke is daar seker unieke reëls wat mens moet volg (jy weet dat die goeie seun of dogter altyd wen), MAAR daar is sekere goed wat mens nooit doen wanneer jy vir kinders skryf nie – NOOIT!

  1. Geen preke, sedelessies of lesings nie.
  2. Moenie op kinders neersien en met hulle praat asof hulle klein idiotiese volwassenes is nie.
  3. Boeke skryf wat nie regtig ’n storie het nie (ook nie ’n plot met begin, middel en einde nie).
  4. Prentjies gebruik wat glad nie betrekking het op die storie nie of andersom.
  5. Prenteboeke met te veel teks.
  6. Nie-fiksie boeke met te veel teks en te min prente.
  7. Vervelige of onnodige karakters skep wat die ontwikkeling van die storie vertraag nie.
  8. Hoofkarakters skep met ’n probleem wat hulle nooit self kan oplos nie of wat glad nie gedurende die storie ontwikkel nie.
  9. VERTEL eerder as WYS deur van die seepkis-tegniek gebruik te maak om te vertel (lees my artikel hieroor elders op ons blog).
  10. Diere “vermenslik” deur hulle presies soos mense te laat optree en vir hulle allitererende name te gee, byvoorbeel Hansie Haas, Martie Mol, Kosie Kat, ens.

Lekker skryf en lees jou storie vir ’n niksvermoedende kind voor. Kinders is baie eerlik en sal dadelik vir jou wys of sê dis nie ’n lekker storie nie. Deur hulle reaksie sal jy dadelik agterkom of hulle daarvan hou of nie. As hulle begin vroetel of nie luister nie, moet jy liewer weer gaan kyk wat skort.

kinderboek 1

Advertisements

2 Kommentaar

  1. Dankie vir hierdie pitkos!

    Like

Trackbacks

  1. WENKE OM SELF JOU KINDERSTORIE TE REDIGEER | Die Skryfbesigheid

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: