VYF EN TWINTIG WOORDE WAARMEE JY GEURE/SMAKE KAN “WYS”

Dit is belangrik om te onthou dat jy net vier smake met jou tong kan proe. Dit is soet, suur, sout en bitter. (Party mense glo daar is vyf as jy die vyfde smaak umami* erken.) Enige ander geure wat jy “proe” is ’n kombinasie van hierdie vier smake of word met die neus geruik. Dit is hoekom kos nie lekker is wanneer jou neus toe is nie.

Skrywers moet meer as vier woorde ken wanneer hulle geure WYS. Jy kan die volgende woorde (met betekenisse) in jou skryfwerk gebruik:
•Vrank – baie suur.
•Bittersuur – ‘n suur smaak wat sterk en bitter is.
•Bitter – ’n sterk skerp smaak wat nie soet is nie.
•Bitter-soet – smaak terselfdertyd bitter en soet.
•Brak – effens souterige smaak, nie suiwer nie.
•Brand – bevat baie speserye wat jou mond brand.
•Beleë – is gelaat om tot ’n aangename sterk geur te ontwikkel (bv kaas/wyn).
•Matig –nie ’n sterk smaak nie.
•Ryp –’n sterk geur.
•Fors – baie geurig.
•Pikant – smaak na sout of speserye, nie soet nie kan selfs suurderig wees.
•Gekruide – bevat kruie om geur te verbeter.
•Skerp –sterk bitter geur.
•Suur –suur soos suurlemoen.
•Speseryagtig – sterk branderige geur.
•Soetsuur – bevat soet en suur geure.
•Stroperig – dik, soet en taai.
•Bytend – amper suurderige smaak.
•Rens – suurderig soos melk wat “af” is of suurmelk.
•Ongesout – nie met sout gegeur nie.
•Waterig – bleek, nie sterk nie.
•Soet – nie suur, sout of bitter nie.
•Prikkelend – amper brand-suur.
•Galsterig – smaak of reuk soos ou botter of vet; aanstootlik of walglik, (volgens Labuschagne en Eksteen se Verklarende Afrikaanse Woordeboek).
•Pekel – Met hoë of versadigde sout inhoud

*Dit is gevoelig vir glutamaat, een van die twintig aminosure. Hierdie smaak, wat umami genoem en in Engels met “savouriness” (smaaklikheid) vertaal word, word deur menslike eters ervaar wanneer hulle kossoorte proe wat baie glutamaat bevat, soos vleis, beleë kaas en seewier. Umami is ’n Japanse woord wat “heerlikheid” of “hartig” beteken.

Baie dankie Amanda Claassens vir die laaste twee wat jy vir ons bygevoeg het! Ons lesers is welkom om nog by te voeg as daar smake/geure is wat ek uitgelaat het.

(Bygewerk deur Marietjie Wentzel, 03 Februarie 2014)