Jou karakters se verskillende tipes liefde

saamgestel deur Marietjie Wentzel

Die sielkundige, Robert Sternberg, het die Triangular Theory of Love ontwikkel. Dit verwys na die verskillende tipes liefde wat mens met iemand anders kan deel. Die teorie is gebaseer op drie komponente waaruit ’n verhouding kan bestaan, naamlik:

  1.  Intimiteit (Intimacy): Dit is gevoelens van verknogtheid, innigheid, vertroue en verbondenheid. Jou maat kan jou beste vriend/in wees. Lag julle saam en het julle saam pret?
  2. Passie (Passion): Dit sluit die seksuele aangetrokkenheid of fisieke verbintenis tussen twee mense in.
  3. Toewyding/verbintenis (Commitment): Dit is die besluit om by mekaar te bly, ongeag wat die omstandighede mag wees en om saam planne te maak vir die toekoms.

Daar is ’n wisselwerking tussen die drie komponente en die aksies wat daaruit voortspruit het sewe soorte ondervinding van liefde tot gevolg wanneer dit aan die hoeke en sye van ’n driehoek gekoppel word soos die skets hierby (Geen liefde is nie hier aangedui nie). Die grootte van die driehoek se funksies verteenwoordig die hoeveelheid liefde – hoe groter die driehoek, hoe groter die liefde. Die vorm van die driehoek verteenwoordig die “styl” van liefde wat kan verander/varieer in die loop van die verhouding.

  •  Nonlove: Geen liefde verwys bloot na die afwesigheid van al drie die komponente van liefde. Geen liefde is die toonbeeld van die meeste van ons persoonlike verhoudings wat bloot toevallige interaksie is.
  • Liking/friendship: Aangetrokkenheid/vriendskap word hier aangedui as oppervlakkig. Dit is eintlik die gevoelens wat mens ervaar in verhoudings wat as ware vriendskap beskou word. Mens voel nabyheid, gebondenheid en warmte vir die ander persoon sonder gevoelens van intense passie of langtermyn verbintenis.
  • Infatuation love: Verliefdheid is die gevolg van die ervaring van passievolle opwekking in die afwesigheid van intimiteit en toewyding/verbintenis. Romantiese verhoudings begin dikwels as verliefdheid en verander met verloop van tyd in romantiese liefde. Sonder die ontwikkeling van intimiteit of verbintenis kan verliefdheid skielik verdwyn.
  • Empty love: Leë liefde word beskryf as verbintenis sonder intimiteit of passie. ’n Sterk liefde kan agteruit gaan en in leë liefde ontaard. In ’n gereëlde huwelik (arranged marriage) kan die huweliksmaats se verhouding begin as leë liefde en ontwikkel in ’n ander vorm.
  • Romantic love: Romantiese liefde ontstaan uit die intieme en passievolle komponente van liefde … romantiese geliefdes is nie net fisiek tot mekaar aangetrokke nie, maar is ook emosioneel gebonde. Die aangetrokkenheid is intiem en passievol, maar sonder volhoubare verbintenis.
  • Companionate love: Kameraadskaplike liefde is ’n intieme, nie-passievolle tipe liefde wat sterker is as vriendksap weens die langtermyn verbintenis. Hierdie soort liefde is sigbaar in langtermyn huwelike waar passie nie meer teenwoordig is nie, maar waar diepe toegeneëntheid en verbintenis behoue bly. Die ideale liefde wat familielede vir mekaar het, is ’n vorm van kameraadskaplike liefde, soos die liefde tussen hegte vriende wat ’n platoniese, maar sterk vriendskap het.
  • Fatuous love: Sotte/dolle liefde word vergestalt in ’n warrelwind hofmakery en dan die huwelik – “sot” in die sin dat ’n verbintenis aangegaan is op grond van passie sonder die stabiliserende invloed van intieme betrokkenheid.
  • Consummate love: Volmaakte liefde is die volmaakte vorm van liefde wat die ideale verhouding is waarna mense streef. Uit die sewe tipes liefde, is volmaakte liefde die liefde wat geassosieer word met die “perfekte paartjie.” Volgens Sternberg sal sulke paartjies vir vyftien jaar of langer in die verhouding goeie seks hê. Hulle kan hulle nie indink om oor die langtermyn gelukkiger met iemand anders te wees nie, hulle oorkom hulle probleme grasieus en albei verlustig hulle in die verhouding. Sternberg maan egter dat die handhawing van volkome liefde selfs moeiliker kan wees as om dit te bereik. Hy beklemtoon dat die belangrikheid daarvan is om die komponente van liefde oor te sit in aksie. Hy waarsku ook dat sonder die uiting van liefde selfs die grootste liefde kan vergaan. Daarom is dit moontlik dat volkome liefde nie permanent kan wees nie. As passie met verloop van tyd verlore gaan, kan dit verander in kameraadskaplike liefde.

’n Verhouding wat net op een van hierdie elemente gebou word, is minder geneig om te bly voortbestaan as een wat op twee of drie van die elemente gebou is.

In watter tipe romantiese verhouding is jou karakters?

Bron: http://en.wikipedia.org/wiki/Triangular_theory_of_love06 Jou karakters se verskillende tipes liefde Skets 2-page-001 jpg

One thought on “Jou karakters se verskillende tipes liefde

Lewer kommentaar op seegogga Kanselleer antwoord